Die Mensdom (#3160)

My God, Wat ek aanbid en vereer! Ek getuig van U eenheid en U enkelvoudigheid, en erken U gawes, beide in die verlede en in die hede. U is die Almilddadige, die oorvloeiende buie van Wie se genade op hoog en laag gelyk afgereent het, en die prag van Wie se guns oor albei die gehoorsame en die weerspannige uitgestraal het.

O God van genade, voor Wie se deur die kern van genade neergebuig het, en rondom die heiligdom van Wie se Saak vriendelike goedheid, in sy innigste gees, rondgedraai het, ons smeek U, biddende om U welwillendheid van ouds, en soekende U hedendaagse guns, dat U U oor almal mag ontferm wat die openbaringe van die wêreld van wese is, en weier hulle nie die uitstortinge van U genade in U dae nie.

Almal is maar arm en behoeftig, en U is voorwaar die Alles-Besittende, die Alles-Onderwerpende, die Almagtige.

-Bahá'u'lláh
-----------------------

Die Mensdom (#3161)

Geloof sy U Naam, o Here my God! Duisternis het op elke land geval, en die magte van onheil het al die nasies omring. Deur hulle gewaar ek, egter, die prag van U wysheid, en onderskei die luister van die lig van U voorsiening.

Hulle wat as 't ware deur 'n sluier van U uitgesluit is, het gemeen dat hulle die mag het om U lig uit te doof, en om U vuur the blus, en om die winde van U genade stil te maak. Nee, en hiervan getuig U mag vir my! Indien iedere beproewing nie die draer van U wysheid gewees het nie, en elke swaar toets die middel van U voorsienigheid nie, sou niemand gedurf het om ons teen te staan nie, alhoewel die magte van die aarde en die hemel teen ons saamgespan was. Sou ek die wonderbaarlike geheime van U wysheid, wat voor my bloot lê, ontknoop, sou die teuels van U vyande uitmekaar gekloof word.

Verheerlik sy U, o my God! Ek smeek U by U Allergrootste Naam, om diegene wat U bemin bymekaar te maak rondom die Wet wat vanaf die welbehae van U wil uitvloei, end dit op hulle te laat daal wat hulle harte verseker.

Magtig is U om te doen wat U behaag. U is, voorwaar, die Hulp in Gevaar, die Selfbestaande.

-Bahá'u'lláh
-----------------------

Die Mensdom (#3157)

O U vriendelike Here! O U Wat vrygewig en genadig is! Ons is die dienaars van U drumpel en het vergader onder die beskuttende skaduwee van U goddelike eenheid. Die son van U genade skyn oor almal, en die wolke van U mildheid stroom op almal neer. U gawes omring almal, U liefderyke voorsienigheid steun almal, U beskerming oorskadu almal, en die blikke van U begunstiging is op almal gerig. O Here! Gee U oneindige skenkings, en laat die lig van u leiding skyn. Verlig die oë, vervrolik die harte met blywende vreugde. Verleen 'n nuwe gees aan alle mense en skenk hulle die ewige lewe. Ontsluit die hekke van ware insig en laat die lig van geloof luisterryk skyn. Versamel al die mense onder die skaduwee van U mildheid en maak dat hulle in harmonie verenig, sodat hulle soos die strale van een son mag word, soos die golwe van een oseaan en soos die vrugte van een boom. Mag hulle van dieselfde fontein drink. Mag hulle deur dieselfde luggie verfris word. Mag hulle verligting ontvang van dieselfde bron van lig. U is die Gewer, die Genadige, die Alvermoënde.

-`Abdu'l-Bahá
-----------------------

Die Mensdom (#3158)

O U medelydende Here, U Wat vrygewig en bekwaam is! Ons is dienaars van U wat onder U voorsiening skuil. Werp U gunstige blik op ons. Gee lig aan ons oë, gehoor aan ons ore, en insig en liefde aan ons harte. Maak ons siele vreugdevol en gelukkig deur U blye tydinge. O Here! Wys vir ons die baan van U koninkryk, en laat ons almal deur die asem van die Heilige Gees herlewe. Verleen die ewige lewe aan ons en ken eindelose eer aan ons toe. Verenig die mensdom eb verlig die wêreld van die mensheid. Mag ons almal U baan volg, verlang na U welbehae en die geheime van U koninkryk soek. O God! Verenig ons en verbind ons harte met U onverbreeklike band. Voorwaar, U is die Skenker, U is die Vriendelike Een en U is die Almagtige.

-`Abdu'l-Bahá
-----------------------

Die Mensdom (#3159)

O U vriendelike Here! U het die hele mensheid van dieselfde oorspronklike stam geskape. U het verorden dat almal aan dieselfde huishouding sal behoort. In U Heilige Teenwoordigheid is hulle almal U dienaars, en die hele mensdom word onder U Tabernakel beskut; almal het aan U Tafel van Mildheid bymekaar gekom; almal is verlig deur die lig van U Voorsiening.

O God! U is liefdevol aan almal, U het vir almal gesorg, beskerm almal, ken die lewe aan almal toe. U het elke en almal met talente en aanleg bedeel, en almal is ondergedompel in die Oseaan van U Barmhartigheid.

O U vriendelike Here! Verenig almal. Laat die godsdienste ooreenstem en maak die nasies een, sodat hulle mekaar as een familie en die hele aarde as een tuiste mag sien. Mag hulle almal in volmaakte ooreenstemming saamleef.

O God! Hef die vaandel van die eenheid van die mensdom op.

O God! Bring die Allergrootste Vrede tot stand. Bind U, o God, die harte aanmekaar.

O U vriendelike Vader, God! Verheug ons harte deur die geur van U liefde. Verhelder ons oë deur die Lig van U Leiding. Verbly ons ore met die melodie van U Woord, en beskerm ons almal in die Vesting van U Voorsienigheid.

U is die Magtige en Kragtige, U is die Vergewende en U is die Een Wat die tekortkominge van die hele mensheid oor die hoof sien.

-`Abdu'l-Bahá
-----------------------

